Opus Dei | |
---|---|
’n Seël van Opus Dei.
| |
Gestig | 2 Oktober 1928 |
Soort instelling | Persoonlike prilaatskap |
Doel | Die verspreiding van die idee dat enigiemand heilig kan word |
Hoofkwartier | Rome, Italië |
Streek gedien | Hele wêreld |
Lede | 94 776 (2016)[1] |
Titel van leier | Prelaat |
Huidige prelaat | Fernando Ocáriz Braña |
Moederorganisasie | Rooms-Katolieke Kerk |
Webtuiste | opusdei.org |
Opus Dei, amptelik bekend as Die Prelaatskap van die Heilige Kruis en Opus Dei (Engels: The Prelature of the Holy Cross and Opus Dei; Latyn: Praelatura Sanctae Crucis et Operis Dei), is ’n instelling van die Rooms-Katolieke Kerk wat leer almal kan heilig word en dat die gewone lewe ’n weg na heiligheid is.[2][3] Die meeste lede is niegeestelikes; die res is niekloosterlike priesters onder leiding van ’n kerkvoog of prelaat wat deur spesifieke lede gekies en deur die pous aangestel word.[4] Opus Dei is Latyn vir "Werk van God" en lede verwys dikwels na die organisasie as "die Werk".[5][6]
Opus Dei is in 1928 in Spanje gestig deur die Katolieke heilige en priester Josemaría Escrivá, en het in 1950 die goedkeuring van die Katolieke Kerk gekry deur middel van pous Pius XII.[7] Pous Johannes Paulus II het dit in 1982 ’n persoonlike prelaatskap gemaak deur die Apostoliese konstitusie Ut sit; dus dek die jurisdiksie van sy eie biskop, eerder as geografiese bisdomme, die persone in Opus Dei waar hulle ook al is.[7]
In 2016 het die prelaatskap 94 776 lede gehad: 92 667 niekerkliks en 2 109 priesters.[1] Dit sluit die bisdomlike priesters uit wat lid is van Opus Dei se Priestergenootskap van die Heilige Kruis, wat in 2005 sowat 2 000 lede gehad het.[8] Daar is Opus Dei-lede in meer as 90 lande.[9] Sowat 70% lede van die lede woon in privaat huise en lei ’n tradisionele Katolieke gesinslewe met ’n sekulêre loopbaan,[10][11] terwyl die res selibaat is en hoofsaaklik in Opus Dei-sentrums woon. Benewens hul persoonlike welsynwerk organiseer Opus Dei-lede opleiding in Katolieke spiritualiteit soos toegepas op die alledaagse lewe; lede is betrokke by die bestuur van universiteite, universiteitswonings, skole, uitgewers, hospitale en tegniese en landbou-opleidingsentrums.